Die land wat ek en my liefhet
Ek droom snags van jou my geliefde land. Ek smag nog na die miere, die krieke, die bye, die besies en die bloedrooi grond. Na swart gesigte met drie glimlaggende wit gate elk. Na windpompe en droogte. My oe wil drup as ek dink aan die hoe cumuli en die donderse weer. Na reen wat plof op droe grond. Na familie en menswees. Ek verlang na Sondagmiddagetes. My ou vriende word goddelike spoke in my gedagtes, soos hulle een vir een afsterf in die ereposisies van my hart.
Is dit nie vreemd hoe mens al hoe meer ‘Suid Afrikaans’ word wanneer jy in Engeland is nie ?! Ek kon nie meer sonder Tannie Balle se chutney lewe nie. Ek moes alles van bobotie tot koeksisters leer maak om te oorleef. Ek wil nou ‘n vlag teen my venster hang en vir hierdie damn eilandtjie skree:” Ek is van die super-kolonie van Suid Afrika” Terselfdetyd wil ek nie Afrikaans wees nie. Ek wil mens wees. Dit is soos een van my mo (homo) vriende. Ek het op ‘n stadium besef dat sy hele wereld (en gesprekke) draai om die feit dat hy vir die ander span bat. Dit is seker ‘n resultaat van marginalisering. Dit is asof Suid-Afrikaner die enigste ding is wat ek geword het. Ek is nie meer ‘n man, eggenoot, ingenieur, gelowige, hardekwas …. nie ek is nou net ‘n Suid Afrikaner vir die pommies en ‘n eiesoortige vir die ander imgegrasaffers. My hele jaar tel ek af hoeveel slapies dit gaan wees voordat ek kan terug gaan Suid-Afrika toe en kyk amper elke dag vir vlugkaartjies.
Ek kou elke herinnering tot senings en sout.
Maar alles waarna ek ek verlang is herrinneringe en mense en plekke wat nooit weer sal wees nie en meerendeels nooit was nie. Ek het jou lief my dierbare kontinent, maar my hart is my eie.
Ek sal jou weer sien my geliefde land, maar nie as een van joune nie. Dan sal jy een van myne wees, en ek sal jou liefhe soos ‘n kind, soos jy my liefgehad het as jou kind.

Really well put, bru.