koeksister resep – nuut en verbeter

Hartseer soos wat mag wees, is omtrent al my hits is van mense wat soek na koeksister resepte. (‘n ander een wat my onverwags betrap het is mense wat soek na behandeling van breinvliesontsteking). Ek voel daarom genoodsaak om my deel vir die samelewing te doen:

Vir die stroop:
1 kg (1 liter) suiker
5 ml kaneel
2.5 ml gemmer
500 ml water

Gooi 1 kg suiker, 500 ml water, 5 ml kaneel en 2.5 ml gemmer in ‘n pot en kook dit tot ‘n opgeloste vloeistof. STOP. Wag tot die stroop koud genoeg is om in ‘n ander bak te gooi. Laat die stroop oornag afkoel in die yskas. Go to bed, do not pass go, do not collect $200. Die yskoue stroop is die eerste geheim van koeksisters maak, so moenie eers met louerige stroop probeer nie ! Wanneer jy dit die volgende dag uitgehaal het, sit die bak in ‘n ander bak met yskoue water en ysblokkies in, sodat die vloeistof koud bly te midde van die oefening.

Vir die deeg:
500 ml koekmeelblom
25 ml bakpoeier
30 ml margarien
100 ml melk
100 ml water
knippie sout
500 ml sonneblom olie (om in te fry my kind)

Verhit (nogal baie warm, maar nie kook nie) genoeg sonneblomolie in ‘n pot om die sistertjies in te braai. Meng 500 ml koekmeelblom, 5 teelepels bakpoeier en knippie sout. Vryf 30 ml margarien in met jou vingers.

Sny 200 ml melk en/of water (ek gebruik 100ml water en 100 ml water) in die meel in. Moenie die meel te veel hanteer nie, hoe minder jy dit hanteer hoe beter.

Rol dit uit op ‘n ligweg-meel-gestrooide oppervlak tot so 5 mm dikte. Sny die deeg in repe van 5 cm breed en 10 cm lank (net ‘n riglyn, dimensioneer na gelang van smaak). Sny die repe verder om elk drie bene te hê. Vleg die bene en druk dit styf vas aan die oop kant.

gesny.jpg

Bak die gevlegte outjies in die olie tot altwee kante ‘n mooi karamel kleur het. En nou vir die tweede geheim: Die koeksister moet nog kook en borreltjies maak, dan moet jy dit al in die yskoue stroop onderdompel het, soveel so dat jy hom sal hoor stroop trek. Haal die koeksister na so minuut uit. Die koeksister behoort baie swaarder te voel as jy hom uithaal.

gebak-en-gedoop.jpg

Gebruik verskillende implemente om die koeksisters in die olie en in die stroop te hanteer, vertrou my, jy wil nie stroop in die olie kry nie.

Klank nodig vir hierdie video:

~ deur mieliepap op 25 Julie, 2007.

13 Responses to “koeksister resep – nuut en verbeter”

  1. Ek dink ek sal nou die voorste lid van my linker pinkie gee vir ‘n koeksuster.

  2. Dis waar wat jy sê dat jy hom moet hoor stroop trek. Ek dink dis waar die ’sister’ gedeelte van die naam vandaan kom – dit het niks met ‘n suster te doen nie, hy moet sis.

  3. My pa is lief vir koeksusters. Verstaan mooi, hy vrek daaroor. Ons weier om dit te bak, want hy kom proe net gou en dan is die baksel sommer gehalveer.

  4. dankie. ek gaan die resep sommer dadelik probeer. Soek al maande na ‘n lekker resep. nz

  5. Oooooo – het nog altyd koud laat word, maar nooit nooit yskaskoud nie! Probeer weer.

    Stunning resep.
    Thanks

  6. Hey
    dankie – wou die Hollanders hier laat weet wat hulle mis maar die enigste resep wat ek kon kry het kremetart in die stroop – kan dit nie hier kry nie.

  7. Net gewonder of die deeg nie ‘n geklitste eier moet bykry nie? Al die ander koeksister resepte het ‘n eier in die deeg.

  8. Jong ja. Net soos die spreekwoordelike Eunuch van ‘n heer se Harem, werk die koeksister (en toevallig skons) resep beter sonder eiers.

  9. ek se baie dankie,sithier in parys en dit laat my soveel beter voel en n bietjie nader aan my ma by die huis, moet se die fraanse is dol daar oor.

  10. Is besig om “tradisionele” disse vir my dogter te maak – hulle het ‘n Ethnic Festival by die skool – sy het aangedring op koeksisters! Dankie vir die resep – klink soveel beter as die ene wat ek het – gaan hom sommer nou probeer!

  11. Help! Fantastiese resep. My enigste problem is dat party van my koeksisters was rou in die middel. Kleur was karamel ens. Hoe warm moet die olie wees? Moet ek hulle dalk dunner maak? Nie dat my man gekla het nie:0)!

    • Ek het by ‘n tannie gehoor dat die koeksister moet afsak in die olie, tydjie daaronder bly en dan weer opkom. As dit nie afsak nie is die olie te warm, as dit nie weer opkom nie is jou olie te koud. Hoop dit help

  12. Dankie vir die uitstekende resep. My man is ‘n Duitse chef en ek moes onmiddellik nog ‘n baksel aan die gang kry nadat hy omtrent alles verslind het!

Leave a Reply