Gina

African MaidEk het vandag verlof geneem vir die dag. Ek vergeet dit is ‘n weeksdag en het my ouerhuis in SA gebel. Die gesprek het my hart gebreek:

Persoon aan die ander kant: “Hello dis Gina”

Ek: “Hello, ‘skuus, wie praat ?”

Gina: “Dis Gina baas. Die baas is nie nou hier nie”

Ek: “Dankie Gina. Totsiens Gina.”

Ek het skaam die telefoon neergesit en amper begin huil.

Ons het tot 01h00 vanoggend by die werk gesit en een in ‘n oomblik van pom-gemak het ‘n kollega vir my gevra of dit moeilik is om aan te pas in die UK sonder “maids“. [my reponse was : Hoe weet jy my ma is nie een nie?]

Ek weet my generasie was nie direk vir apartheid verantwoordelik nie, maar ons het sekerlik baie daarby gebaat itv geleenthede, opleiding, blootstelling etc. Sekerlik word ons ook daardeur benadeel itv werksgeleenthede(regstellende aksie), misdaad (as jy dink morele verval in SA is een van apartheid se stiefkinders), minderwaardigheids- en skuldkomplekse etc. Dit blyk redelik binêr van aard te wees, of jy word baie bevoordeel, of baie benadeel. Ek is een van die gelukkiges (?) wat baie bevoordeel is deur apartheid. Ek het (relatief gesproke) soos ‘n prinsie groot geword.

Deur my jeug het ons seker so 10 huishulpe gehad (nie op een slag nie). Iewers het jong swart seuns en swart dogters sonder hulle ma’s groot geword. Hulle moes groot word in hulle ouma/oupa/tannie se huis (shack) terwyl hulle bloedma’s my- (‘n wild vreemde {semi}wit{genoeg} bliksem) bed opmaak, klere was stryk en wegpak, vuil skottelgoed was afdroog en wegpak, toilet was, kos maak en dan blammeer word dat sy ons suiker steel. Ek onthou hoe die huishulpe elke jaar so twee of drie keer die lang pad huis toe gevat het vir ‘n week of wat. Ek kan my nie indink nie, hoe dit voel as jou ma so ver so lank van jou af is. Jou pa is heel waarskynlik in ‘n myn 3 km in die maag van die aarde besig om goud vir die wit kind se drome en verwagtinge te ontgin. Ek is nie verantwoordelik vir apartheid nie, maar hemel, ek is intens jammer daaroor (aldan op ‘n siek manier verskuldig daaraan).

AMAKEIA [A.G. Visser]

In die skadu van die berge,
bos-beskut aan alle kant,
staan alleen die hartbeeshuisie
op die grens van Kafferland.

Saggies neurie Amakeia
op die wal van Kei-rivier,
tot hy slaap, die tere wiggie
van die blanke pionier:

“Stil maar, stil maar, stil Babani;
kyk hoe blink die awendster.
Niemand sal vir kindjie slaan nie –
stil maar, al is Mammie ver.”

Amakeia had belowe
toe haar nonna sterwend was,
om die hulpelose kindjie
tot hy groot was, op te pas.

Liefd’ryk sorg sy vir die wit kind,
tot vir hom die lewenslig
straal uit aia Amakeia’s
vrind’lik-troue swart gesig.

Onheilspellend sien sy tekens,
oorlog kom daar in die land:
Snel die inval, huis en hawe
uitgemoor en afgebrand.

Selfvergetend, doodveragtend,
met die wit kind op haar rug,
na die Amatola-berge
het sy ylings heen gevlug.

“Stil maar, stil maar, pikanienie;
oor die bergtop rys die maan.
Niemand sal vir ons hier sien nie;
môre sal ons huis toe gaan.”

Ag, dat oë van verspieders
ook haar skuilplaas moes ontdek!
“Spaar hom, hy’s so klein nog,” smeek sy
met die hande uitgestrek.

Woedend tier die wilde bende:
“Sterf of gee die wit kind hier!”
“Oor my lewelose liggaam …”
antwoord Amakeia fier.

“My belofte aan my nonna –
beste wat daar ooit nog was –
waar hy gaan, moet Amakeia
saamgaan om hom op te pas.”

“Is jul lewend nie te skei nie,
bly dan in die dood vereen –
kort proses met haar, Maxosas,
laat die blink asgaaie reën!”
*
In die Amatola-klowe
sing nog net die winterwind
deur die riete in die maanskyn:
“Tula – Tula – stil, my kind!”

~ by mieliepap on 18 July, 2007.

19 Responses to “Gina”

  1. O hel, nou het jy my baie ver terug gevat. My ma het Amakeia saans vir ons gesing met slapenstyd.

    Ek het ook ‘n swart ousie gehad wat my en my sussie grootgemaak het, terwyl my ma werk. Anna was soos my eie ma, sy het ons kos EN pak gegee en als.

    Sy het nie ‘n pas gehad nie en ons het haar in die plafon weggesteek as die polisie om gekom het – my pa was baie liberaal en kon Xhosa praat. Daar was ‘n swart konstabel wat my pa altyd afgetip het as dit tyd was vir klopjagte. So het Anna by ons gewerk tot ek 12 was, toe is sy terug land toe.

    Ek wonder nog baie dae of sy nog leef en waar sy nou is?

  2. Sonkind, ek kan nie help om aan Theuns se liedjie te dink nie: Katie was nie ‘n maid nie maar ‘n ma v my. Dink ons almal het ‘n Katie of 2 gehad. Hulle het ons lief gehad. Ek het nie eers hulle native name en vanne geken nie.

    BTW, die post se titel was eers ousie, maar ek is beruspe, en rightly so, dat die woord ‘ousie’ baie un-PC en onaanvaarbaar is, veral suid v d Oranje.

  3. Eerstens dink ek Afrikaners se luiheid, is deels die rede hoekom hulle tot ‘n val gekom het. Om afhanklik te wees van “ousies” en “tuinboys”, was om luukshede te he wat nie nodig was nie. Maar hoe praat ek dan nou in die verlede tyd? Dis nog STEEDS so! Pappie verdien baie geld, Mammie gee dit uit en die “ousie” moet die hele huishouding hanteer! Pappie kan ook nie in die tuin werk nie, want hy’t nie “tyd” nie.
    Tweedens, ek het ook met “bediendes” groot geword. Ek het egter geen skuldgevoelens nie, want my ouers het hulle baie ordentlik behandel en hulle bygestaan met allerlei probleme en in moeilike omstandighede. Ek kan nie sien hoe hulle beter behandel kon gewees het nie. En hulle werk by ons, het ten minste ook vir hulle kos op die tafel gesit. Ek het ook self huishulpe gehad in my lewe en het hulle altyd menswaardig en met respek behandel. Ek dink die balls-up kom in by baie Afrikaners EN Engelssprekendes wat nie hulle huishulpe en tuinhulpe menswaardig behandel het nie en sodoende deel swak rasseverhoudinge geskep het (en steeds skep!).

  4. Nou verlang ek na Nellie. Sy’t nie net by ons gewerk nie. Sy was deel van die familie.

  5. Dit is nogal verskillend hier, en mens kom dit eers agter as jy hier settle in suburbia. Ons het 1 keer ‘n week ‘n bediende, en 1 keer ‘n week ‘n tuinman. Nie omdat pappie baie verdien, of mammie sy geld uitgee nie (beide nie van toepassing op ons nie), maar eerder omdat arbeid so spot goedkoop is. Hoekom sal ek elke Saterdag in die tuin werk (ten minste die gras moet elke week gesny word) as ek iemand ‘n fraksie van my dag se salaris kan betaal om dit te doen? Dan kan ek eerder gaan gholf speel. In Engeland was ons woonstel so klein dat dit nooit meer as 2 uur geneem het om hom skitterend skoon te kry nie, en daar was nie ‘n tuin nie. Hier kan mens meer spasie bekostig, maar dit vat ook meer tyd.

    Gister vra ons bediende wanneer ons dan nou gaan kinders kry sodat sy hulle kan oppas.

  6. My ma het nooit ‘n bediende gehad nie, sy het, en doen steeds al haar werk self.
    Maar in ouma se huis was Aja Treintjie.
    Ek het op haar rug gesit as sy vloere politoer.
    En ek was kleinnooi
    En my oupa was oubaas
    En die werkers het respek gehad
    En ons het respek gehad
    En as ons nie respek gehad het nie, is ons gefoeter
    En niemand het vir iemand aangerand nie
    En niemand het op niemand gevloek nie
    En almal het gratis gebly, betaling en kos gekry
    En daar was oorvloed want oupa het gebukkend saam met die werkers gewerk
    En snags het ouma ‘n klokkie in die kamervenster se vensterbank gesit, want die wilde katte het soms deur die wa-wyd oop venster ingeklim, en die klokkie sou hulle wakker maak sodat hulle die kat kon verwilder.
    En die .22 het agter die kombuis deur gestaan, want oupa het die dassies uit die kombuisvenster geskiet – hulle en die voels het vrugte gesteel.
    En soms het rondloper honde onder die skaap gekom en skade aangerig. Dan moes oupa skape wat nog lewe se kele afsny.
    En die mense mag nie daardie vleis geneem het nie – dit is begrawe.
    Hulle het gesonde skaap gekry om vir hulle te slag.
    En ons was veilig
    In die vorige eeu
    In Aja Treintjie se tyd

  7. En Anja Treintjie kon nie stem nie.
    En Anja Treintjie se kinders kon nooit iets anders as maar ook net werkers op ‘n plaas of in ‘n huis gewees het nie.
    En Anja Treintjies kon nie saam met Ouma en Oupa kerk toe gaan nie.
    En Anja Treintjies moes by ‘n ander deur by die algemene handelaar instap.
    En as Anja Treintjies se kinders, of kleinkinders gedroom het daarvan om meer as ‘n verniet skaap of blyplek op ‘n veilige plaas te hê, was hulle moeilikheidmakers wat nie hulle plek ken nie.

    Die goeie ou dae was nie vir almal so goed soos ons wil onthou nie.

  8. Hier kom ‘n wilde kat duiwehok toe…

    Moet mens nie skuldig voel dat die mense wat werk in die huis en die tuin so min betaling kry nie (“spot goedkoop”)? Is daar enigsins ‘n vorm van uitbuiting by betrokke? Behoort hierdie mense nie meer te verdien nie?

    Skoorblok, jou woorde is mooi geskryf, al romantiseer dit die verlede. PZ, ek het my kleurling-bediende altyd huis toe geneem in Sir Lowry’s Pas. Met die kids gesels, tee gedrink in die netjiese huisie ens. Vir hulle is die lewe maar nog altyd dieselfde na 94. Stemreg het niks dramaties aan hulle lewe verander nie. Daar is baie sulkes. Miskien is Aja Treintjies een van hulle.

  9. Miskien sal oupa die wilde kat met die .22 skiet…

    Gelukkig is hy en ouma aan natuurlike oorsake hemel toe, en is hulle oumens liggame nie vermorsel agtergelaat deur Apartheid se Toedoen nie.

    Groetnis

  10. Nee hel, ek val niemand aan nie, nie eens duiwe nie. Ek noem net ons dink soms te romanties oor die verlede, en dat dit nie vir almal so was nie.

    Uitbuiting is ‘n skande ja. Maar goedkoop arbeid is nie noodwendig uitbuiting nie. Net omdat ons mpy se MD baie meer as ek verdien beteken dit nie ek word uitgebuit nie, hy verdien dit (hopelik) om verskeie redes.

  11. Julle, volgens my is moet die blog sy plek in ons lewens verdien. As dit bloot net ‘n uitbreiding is van die tasbare en as dieselfde reels geld, voeg dit nie genoeg toe nie. Nee. Ek sien die blog as ‘n tikkie ekstra, iets waarvan ons die grense moet toets. Met die uitsondering van 1 of 2 van julle, is julle nie my vriende (in die tradisionele betekenis van die woord) nie. Julle is oulike mense waarvan ek hou wat my blog met julle teenwoordigheid vereer. Maar vriende is julle nie. Selfs die wat my vriende is, blog onder ‘n skuilnaam (soos ek), so sover dit my aangaan is ons nie vriende op in die blogosphere nie.

    Daarom sal ek nie skroom om my gedagtes weer te gee nie – taktloos of te not. Hoop ek sien julle weer hierna.

    Ek voel nie skuldig nie. Ek het immers niks verkeerd gedoen nie. Ek voel wel jammer. Net so blammeer ek julle nie, maar dit is belangrik om eerlik te wees oor hoe dit is.

    Idiwi: Dit is juis my punt. Sy was deel van julle familie en nie van haar eie nie.

    BiB: Ek stem saam dat huiswerkers met respek hanteer moet word. En ek stem saam dat baie van hulle baie goed hanteer is (relatief anyway). Maar die opset was nog steeds swak, hulle was nie by die huis nie.

    Nadat ek hierdie post geplaas het het ek besef daar is ‘n reuse lang lyn te trek, hierdie lyn is iewers tussen swart- vs kleurling huiswerkers, inwoon- vs inry huiswerkers, noord van die Oranje of suid van die Oranje. My probleem is hoe mense aan die een kant van hierdie lyn behandel is. En nee, dit is nie net die mense wat hulle employ het se skuld nie.

    Hierdie argument is ook baie soos die huidige argument oor die arm lande wat spotgoedkoop klere maak vir die UK. Hulle word minder betaal as wat nodig is om te oorleef, maar as jy dit boikot vir morele redes, dan sny jy hulle enigste inkomste af…

    Skoorblok, ongelukkkig is jou liewe verlede nog ‘n werklikheid vir baie mense in die land. Dit is soos die PZ sê, dit was nice vir ‘n paar van ons.

    Net om seker te maak ek maak hierdie comment te lank: As ek sonder my ma moes groot geword het, terwyl sy iemand (X)anders se substituut ma was, is die kanse goed dat ek nie vir iemand (X) sy eie geluk sou gun nie, en miskien ook nie sy lewe nie.

  12. en as ek heeltemal eerlik is: die situasie was uiters sleg. Deur hulle in diens te neem het mens hulle finansiele situasie verbeter, maar hulle familie opset verswak. Dit is nog steeds so in baie dele van ons land.

  13. Mieliepap, ek wil so graag jou antwoord, maar ek het nou al reeds ‘n bottel Franse Chardonnay agter die blad. So, ek laat dit maar daar deur te se, dat nes mens die verlede kan romantiseer, kan jy ook ander mense se lewens namens hulle interpreteer, sonder dat jy ‘n aks nader aan die waarheid beweeg. As hierdie opmerking nie sin maak nie, is dit die Chardonnay se skuld…

  14. Die liewe vroutjie het gou van haar datastelle geraadpleeg en die volgende onttrek: domestic workers income per province

    Dit beteken dat ek heeltemal verkeerd was oor die Oranjerivier divide. Sorry

  15. Dankie vir ‘n aangrypende blog, mieliepap. En jy is reg oor die jammer voel. Ons het nie ‘n bediende gehad nie, maar as blanke in die ou Suid-Afrika is ons tog geweldig bevoordeel en bevoordeling kan net geskied ten koste van ander.

    Boerinballingskap en pienkzuit, julle is reg. Die probleem le nie daarin om hulp vir jou huis of tuin te he nie. Inteendeel, as jy dit kan bekostig is dit eintlik jou plig, siende die werklooshuid groot is in SA. Maar jy moet diegene wat vir jou werk ‘n goeie salaris betaal, hulp met mediese kostes gee, ‘n redelike hoeveelheid vakansie toelaat ens. In kort, alles wat ‘n verantwoordelike werkgewer sal doen. Dit gaan ook oor die verhouding wat nie een van baas en klaas moet wees nie, maar ‘n profesionele verhouding van diens en vergoeding. Die hele idee van ‘n inslaap huishulp is totaal verkeerd en onvergeeflik, veral oor die feit dat dit families uitmekaar skeur. En dit net vir die gerief om hand en voet bedien te word alle ure van die dag!!

    As mense se dat die minimumloon gaan beteken dat baie mense nie meer ‘n huishulp kan bekostig nie, raak ek wild. As jy bv. nou met die minimum loon net kan bekostig om jou (voorheel voltydse) huishulp vir 5 ure ‘n week te betaal, laat sak eerste jou kop in skaamte en doen dit dan. Stel haar aan vir daardie 5 ure. Dan het sy darm die res van die tyd af om aan haar familie te bestee en is nie finansieel swakker daaraan toe nie.

    Waar ek nie met boerinballingskap saamstem nie is dat Afrikaners noodwendig lui is. Dit het niks met luiheid te doen nie, maar is ‘n verskynsel wat voorkom in enige plek waar daar ‘n baie groot verskil tussen ryk en arm is en hulle hoef nie noodwendig eers in die selfde geografiese gebied te wees nie. ‘n Voorbeeld is die baie Filipynse vrouens wat hulle kinders in hulle land by famlie agterlos om ryk families in Amerika te gaan bedien, sodat hulle op hulle beurt kan geld terugstuur om ‘n toekoms vir hulle kinders te verseker. Die feit dat daar nou darm geld beskikbaar is vir die Filipynse families wat daar nie sou wees nie, maak dit nie enigsins reg of verskoonbaar nie. Families en gemeenskappe word uitmekaar geskeur en die enigste eerbare uitweg is om die wanbalans tussen ryk en arm aan te spreek.

  16. Dankie vir jou tovoeging labmuis.

    Ek wil nie punt labour nie, maar het gisteraand gewonder hoe ‘n brief aan ‘n huishulp se seun sou lyk:

    Beste Modisi,

    Ek skryf aan jou om vir jou te vertel van die ongelooflike vakansie wat ons ‘n Margate gehad het. Jou ma, Evelina, het mos saamgekom om ons kinders op te pas en te help in die vakansie huis, dit maak dat pa en ma ook darem bietjie kan rus. Sy is so gelukkig om ons te hê, sy sou andersins nooit die see gesien het nie. Jy sal sien dat ek vir jou ‘n paar foto’s van die vakansie gestuur het. Is dit nie pragtig nie ? Op die een het pappa my in die sand begrawe dat net my kop uitsteek. Op die ander een kruip mamma onder die sambreel weg vir die son, dis nou my ma, jou ma was seker in die kombuis. Jou ma se dat jy al weer in standerd 7 gaan wees hierdie jaar en dat jy maar sukkel met die skoolwerk ? My ma en pa help my darem met die die skoolwerk. Hulle het baie tyd om dit te doen, omdat jou mamma vir ons kos maak (sy gooi nooit genoeg sout by die vleis nie nie, en kry nooit die boontjies heeltemal reg nie) en omdat sy die klere was en stryk en die skottelgoed was (dit raas altyd so wanneer sy skottelgoed was dat ons nie die televisie kan hoor nie, dan maak ons die opwas kamer se deur toe). Sy is soos ‘n tweede ma vir ons. Pappa sê ons gaan binnekort vir jou ma se kamer ‘n stort aanbou, want huidiglik het sy net die toilet en wasbak in haar buitekamer. Mamma en pappa is baie goed vir jou ma, hulle het verlede week vir haar ‘n bankrekening by die poskantoor gaan oopmaak en alles. Hulle gaan laai haar altyd by die taxi-rank af as sy huis toe gaan vir die week oor Desember. Dit is juis daarom dat ek nie kan glo dat ons suiker so verdwyn nie. Mamma sê die telefoonrekening is al weer verskriklik hoog, ten spyte daarvan dat ons amper glad nie gebel het nie. As jy weer met jou ma praat, moet jy haar asb waarsku dat sy nie moet bel nie. Praat julle darem baie ?

    Groete,
    Kleinbaas.

  17. Sonkind, ek is jammer, ek het vergeet om te sê, as jy wil, kan jy vir my ‘n foto van Anna stuur, dan kan ons haar probeer opspoor.

    Idiwidi en BiB, Skoor en die res, as julle foto’s van julle voormalige huishulpe het, stuur asb aan, ek sal dit graag as huldeblyk wil pos.

    In skaamte: ek het baie foto’s saam met familielede wat ek een of twee keer in my lewe gesien het. Ek het nie een van hierdie “tweede ma’s” nie.

  18. ag visser verjaar op 1 maart🙂

  19. Nee man, ek raak skoon tranerig as ek als lees!!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: