suid-afrika se blanke droom

Ek het verlede week die boek ‘n Ander Tongval (A Change of Tongue) van Antjie Krog gelees. Naas Anna Karenina is hierdie sekerlik die boek wat my die meeste in ‘n diep denktog laat verval het (en daarom ook gunsteling in daardie volgorde is). Anna Karenina het my met meer antwoorde en verstaan agtergelaat. Antjie het my met wroeging en onsekerheid agtergelaat. Ek glo dat elke Suid-afrikaner hierdie boek MOET lees en my arme vriende en familie gaan kopieë hiervan kry, of hulle wil of nie.

Die een vraag wat vir my soos ‘n swart man in Nottingham uitstaan is of ons, as (semi-) blankes in Afrika hoort. In die boek vra stel sy die punt dat ons as blankes kan argumenteer dat ons Afrikaners is. Ons is al paar generasies daar, Afrikaans het al so ontwikkel dat ons dit moeilik vind om met die Nederlanders te kommunikeer. Verder praat baie van ons tot ‘n mate ‘n Afrika (swart) taal. Maar, die punt wat sy maak is dat tydens die tweede wêreldoorlog het die Duitse Jode al lank in Duitsland gewoon, hulle het Duits gepraat, Duitse vanne gehad en alles. As jy een van hulle sou vra sou hy sekerlik vir jou sê dat hulle Duits is. Wat hulle egter nie-Duits gemaak het, is dat die Duitsers besluit het dat hulle nie Duits is nie. Vergelyk hoe die Maleisiërs na paar geslagte ontken dat die Indiese en Sjinese immigrante Maleisiers is. Die hoeveelste-geslagse Indiërs in Uganda word ook nie as Ugandese gesien nie. Net so word ons Afrika-heid bepaal deur die beskermers van die Afrika identiteit – swart Afrikane. As ons broers in Afrika besluit ons is nie Afrikane nie, watter eis het ons daarop ? Wil die kontinent ons hê? Sien Afrika ons as sy kinders ?

‘n Ander kant van hierdie probleem is vir my dat mense van Suid-Afrika af permanent immigreer, om nooit weer terug te gaan nie, en dan sal hulle hulle nog met die land vereenselwig deur byvoorbeeld net Afrikaanse musiek te luister, met Springboktruie rond te loop en SA-vlae te hê. Dit is seker verkeerd om te oordeel, want daardie mense is ook lief vir die land wat Suid Afrika is (was?). Maar as jy ‘n land permanent verlaat omdat jy nie meer daar kan leef nie , jouself nie meer met die land kan vereenselwig nie, hoe kan jy dan oor die water dit jou eie noem ?

 

‘n Ander aspek wat die boek baie duidelik aanbring is die val van die wit Suid-Afrikanerman. Daar is ‘n baie roerende vertelling van ‘n man wie se mees betekenisvolle oomblik in sy lewe die verdediging van sy land teen die ANC was. Wat bly oor vir so persoon ? As die volgende geslag jou mees trotste oomblik verwerp, as jy jou lewe gegee het om ‘die waarheid te verwerp’, waar vind jy waardigheid ?

Hoekom maak hierdie saak ? Omdat baie van ons ons identiteit o.a. vind in ons Afrikanerskap en Afrika-skap.

 

Hierdie boek het my onverwags en skielik tot inkeer geroep. As Suid-Afrika huidiglik so lelik teen blanke ouer mans draai, wat sal hierdie land keer om teen my te draai as ek eendag ouer is ? Toegegee, ek kan nou nog baie beteken vir die land en baie inkomste inbring, maar as ek pensioen ouderdom bereik, gaan ek in dieselfde bootjie sit.

 As post script: Ek het vandag ‘n Springbok trui gekoop vir die opkomende rugby wêreldbeker (wat ek lewendig gaan kyk vs. Engeland). Ek gaan terug Suid-Afrika toe. Dit is my land. Ek kan nie help om te dink aan Koos en Stef se liedjie nie:

Het Avondland

Ons is gesoute reisigers
Deur dop en lied, deur klank en vers
Ons is ballings uit `n paradys
Orals bekend, maar nêrens tuis.
Agter elke grens `n vreemde taal
In elke stad sy katedraal
Maar waar jy ook al sing of vra
Jou toekoms bly in Afrika

Ik ben onthecht en statenloos
Geen vlag, geen grens die ik geloof
Het noorden kwijt, het westen moe
Zo ging ik naar het zuiden toe
Geen vaderland, geen moedertaal
Geen binnenstad, geen kathedraal
Nu sta ik op het Bloubergstrand
Maar mijn hart ligt in het avondland

Hoe lank moet jy nog aanhou soek
Deur kaart of Bybel, gids of boek?
By watter herberg teen die wind,
In watter stal jou heiland vind?
Onder watter ster of noorderlig
Bly ons strompel, blind en sonder sig.
Slegs die Suiderkruis wag lankal daar
Ons toekoms is in Afrika

Ik droom kastelen langs de Rijn
In de de eeuwen die vervlogen zijn
Het continent van ijdelheid
Waar elke weg naar Rome leidt
Ik ben voorbij de Swartbergpas
De hel was mooier dan ik dacht
Nu sta ik hier aan deze kant
Maar mijn hart ligt in het avondland

As die nag finaal sy mantel gooi,
As die son verdoof van wit tot rooi,
As die stede stil word, mense bang,
In die woude niks meer voëlgesang.
Sal ons wat weet, ons voete wend
Terug na die donker kontinent.
Die laaste lente volg weldra,
Maar ons toekoms wag in Afrika

Als ik ooit alles achterlaat
Mijn taal, mijn stad, mijn huis en haard
Dan is er nog een deel van mij
Dat in het noorden achterblijft
Al heb ik hier het leven lief
Al is mijn oude wereld ziek
Zelfingenomen, arrogant
Toch ligt mijn hart in het avondland
Toch ligt mijn hart in het avondland

Want gister was ons kinders daar
Nou reis ons weer saam na Afrika

Al weet ik dat het vuur hier brand
Toch ligt mijn hart in het avondland

Want gister was ons kinders daar
Nou reis ons weer saam na Afrika

 

~ by mieliepap on 1 September, 2007.

33 Responses to “suid-afrika se blanke droom”

  1. Dis ‘n baie mooi liedjie.
    Jy vra geldige vrae wat ek gewoonlik onbewustelik uit my kop verban.
    Ek dink Suid-Afrikaners wroeg baie meer oor die konsep van identiteit as ander groepe.

  2. Ek het intussen ‘n braai agter die rug en ‘n glas rooiwyn in die hand en is oorval met nog ‘n gedagte: Dit is nie net die beskermers, die inheemses wat die identiteit outoriteit gee nie, maar ook blote hoeveelhede. In Amerika en Australie het die inheemses nie ‘n seggenskap nie. Sodra jy in die meerderheid (itv getalle of mag) is, dan is jou groep die besluitnemer. Dit is hoekom die blanke Suid-Afrikaan die identiteit van Suid-Afrikaner-wees kon bepaal. Hy het al die mag gehad.

  3. Ek begryp Krog se standpunt. En ek verwerp dit.

    Die swart Afrikaners wat vandag hier woon, was eens ook nie hier nie. Indien die idee van die “cradle of life” waar is, het hulle voorsate ook maar lank gelede hier aangekom van midde-Afrika af. Volgens Krog se logika is niémand in Suid-Afrika Afrikane nie, aangesien hier niemand was om mee te begin nie.

    Dat die Duitsers besluit het Jode is nie Duits nie, maak hulle nog lank nie korrek nie, nes dit my nie noodwendig reg maak as ek meen pentacostal evangelical kerke is nie Christelik nie.

    Om “African” te wees, is nie vir my ‘n issue van herkoms of eerste wees nie. Dis ‘n pragmatiese keuse. Ek besluit om myself dit te noem ten einde samesyn en solidariteit met ander mense te probeer bewerkstellig. Of ek dit actually is (volgens die definisie wat Krog gebruik) is vir my geheel en al irrelevant. Die lewe is mos nie ‘n Antropologielesing nie.

    Ek’t nounet in die koshuis aan etenstafel gesit saam met my bruin en swart broers. (Almal, terloops, Afrikaans.) Ek was die enigste witte. Dit het ons nie gekeer om met mekaar te praat en te spot en te lag en die sout aan te gee nie.

    Die verlede mag nie vergeet word nie. Maar dit kan en mag ook nie ‘n meulsteun wees nie. Ek weier om minderwaardig te voel net omdat ek minder melanien het as ander mense.

    Suid-Afrikaners lewe in elk geval nie meer slegs op Afrika nie. Ons woon in die simulacra van reklame, rassemites, internet chatrooms, blogs, die virtuele ruimtes van televisie, radio, koerante en podcasts en dies meer. Die wêreld raak weer een groot vasteland. Dié keer is ons almal gelyktydig hier.

  4. Ek moet ‘n regstelling maak. Krog het nie die punt as haar eie gemaak nie, maar meer as ‘n standpunt van een van haar vele karakters. Hierdie is net my vrye interpretasie daarvan.

    Johan, ek hou van jou antwoord, maar ek sukkel bietjie met jou argument. Wat maak jou Afrikaan ? Daar is sekerlik iets unieks aan hoe Afrikane is, as ons hulle as kategorie wil gebruik. Dink jy soos ‘n Afrikaan (vergelyk met ‘n paar Afrikane wat jy ken uit die res van Afrika) ? Leef jy soos ‘n Afrikaan ? Praat jy soos ‘n Afrikaan ? Lyk jy soos ‘n Afrikaan ? Wat maak jou Afrikaan ? Ek is baie happy as jy vir my se dat jy ‘n Stellenboscher of Kaapstadter of so is, miskien op ‘n stretch Suid-Afrikaans, maar nie Afrikaan nie.

    ‘n Ander pad wat miskien nodig is om te explore is hoekom ons so graag Afrikane wil wees ? Hoekom raak ons defensief as mense se on is nie Afrikane nie en hoekom is ons so vinnig om dit te se ? Is dit omdat ons so bang is ons word uitgegooi ? Hoekom wil ons so graag (“probeer bewerkstellig” soos jy dit stel). En dit is hoekom ek gese het dit hang baie nou saam met ons identiteit. Daar is so baie goed waarmee ons identiteit definieer en vir een of ander rede is om van Afrika te weees disproporsioneel groot. Ons blanke voorouers was Europeers gewees. Hulle het ook baie probeer in Afrika. Was hulle dan Afrikane en Europeers ?

  5. Viva Johan! Beter kon ek dit nie gestel het nie.

  6. Dit is ‘n baie interessante inskrywing. Ons is nog op die oomblik in Holland, maar emigreer terug SA toe, oor presies 5 weke sit ons in die vliegtuig, dis ‘n lekker gevoel. Ek het in die 14 jaar hier, bietjie vir bietjie dood gegaan, van heimwee. Ek luister elke dag SA musiek, lees elke oggend die Beeld, luister deur internet na Radio Pretoria, ek leef Suid Afrikaans, ek doen alles Suid Afrikaans, want ek IS Suid Afrikaans en ek sal dit ook altyd bly.
    Dis ‘n pragtige liedjie … ek hou ook van die liedjie “Huis toe” van Broers …. ook baie mooi woorde.

  7. Ah, ek sien. Dankie vir die opklaring🙂

    Ek dink ons benader die saak op verskillende maniere. Jy (so lyk dit vir my) soek ‘n preskriptiewe definisie van wat ‘n Afrikaan is en probeer dan kyk of jy daarby inpas. In so ‘n geval stem ek met jou saam – indien ‘n Afrikaan ‘n persoon met ‘n swart vel is wat ‘n Afrikataal as moedertaal het (Afrikaans en Engels is byvoorbeeld Germaanse tale en kwalifiseer hoegenaamd nie) dan is ek inderdaad nie ‘n Afrikaan nie.

    Ek verkies die flipside.

    In plaas daarvan om te luister na wat iemand anders vir my sê oor ‘n woord (seker maar omdat ek ‘n hardkoppige taalstudent is) gaan skep ek eerder self ‘n betekenis daarvoor. Ek eien dit vir myself toe; prop myself in die begrip. My lewe is die definisie. My omgang met, as jy wil, predescribed Afrikane maak my self ‘n Afrikaan.

    “Afrikaan” is ‘n woord. ‘n Woord kry betekenis wanneer dit saam met ander woorde in ‘n betrokke konteks staan. Op sy eie is ‘n woord kaal en verdoem tot essensialisme. Daar bestaan tog in elk geval nie iets soos ‘n woord met ‘n enkele betekenis nie. Dis onsin. Plato se moer, sê ek😉

    Wie het in elk geval die woord gemunt? Die destydse inheemse stamme het nie die vaagste benul gehad dat hulle op ‘n kontinent is wat “Afrika” heet nie. Dis juis (ironies?) Europeërs wat verantwoordelik is vir die begrip het!

    Ek is ‘n Afrikaan omdat ek kies om een te wees. Easy as pie.

  8. (sorrie ek los sulke lang inskrywings. as jy eendag terug is in die land koop ek vir jou ‘n drink. sweer😉 )

  9. ‘n Baie interessante en insiggewende inskrywing. Ek het ook Antjie Krog se ’n Ander Tongval ‘n baie goeie boek gevind en dink nou nog daaroor.

    Dit is wonderlik dat jy wil teruggaan, maar ek wonder of julle wel op die ou end sal. Dit lyk my jou vrou het hier studeer en nou werk julle albei hier. Naderhand vestig mens ‘n lewe hier en dan raak jy iemand wat nie regtig êrens behoort nie. As jy wel teruggaan vind jy dalk dat dat wat jy na verlang het nie meer bestaan nie en dat jou land jou nie as sy eie beskou nie, of jy jouself Afrikaan noem of nie.

  10. Vir die Dakar onderhandelaars, en tydens die eerste paar jaar van nie nuwe demokrasie het swart leiers gereeld gesê Afrikaners is Afrikane. In die gesindheid van versoening wat toe geheers het, dink ek ook dit was die wens van swart mense dat Afrikaners en blankes in die algemeen hulself as Afrikane moet sien.
    Deesdae word in die teenoorgestelde rigting gepraat, en ek dink in ‘n groot mate gaan dit vir die Afrikaners wat woel om Afrikane genoem te word, daaroor dat die swart mense en spesifiek hul leiers, moet hou by wat hulle gesê het.

  11. Baie dankie vir julle bydrae. My motief is om antwoorde te kry, om bevestiging van my emosies en doelwitte te kry. Hopenlik kom ons daar.

    Labmuis, ek hoop en glo dat ons terug gaan. My vrou studeer ekonomiese ontwikkeling met die oog om in Afrika, vir Afrika te gaan werk. Ek het reeds vir my liewe werkgewer ingelig dat ek terug gaan oor ‘n jaar en 4 maande. Dit was nie baie aangenaam ontvang nie. Ek is immers hier sodat my vrou haar Afrika-verwante -studies kan voltooi. Hierdie is nie my land nie. Afrika roep my en ek moet gaan. Afrika het my hart. Ek poog slegs om my motiverings te staaf, want soos jy sekerlik weet, hoe langer jy hier is hoe meer lyk Afrika soos ‘n onbekende en buite beheer monster. My hart klop Afrika.

    Johan, ek sal baie graag velkleur uit die argument wil hou. Ek dink dit is maar toevallig deel van die onderskeidslyn. Miskien moes ek dit van die begin af duidelik gestel het. Ek wil weet hoekom ons Afrikaners so desperaat hunker na Afrikaan wees. Ek ek wil weet watter reg ons op hierdie eis het. Nie omdat ek dink ons het nie ‘n reg nie, maar omdat ek nie enige ander argumente kan sien nie as bloot net dat ons probeer en dat ons hier bly nie.

    Ek glo ek is ‘n Afrikaan omdat ek nêrens anders so tuis voel as tussen die doringbome en die dor droogte nie. Niks skree kom huis toe soos die sonbesies en die koer van tortelduiwe nie. Ek is Afrikaan omdat ek in trane uitbars as Madiba en/of Tutu op die TV/radio praat. Ek is Afrikaan omdat ek probeer om ‘n verskil in Afrika te maak. Ek is Afrikaan omdat ek die kontinent in my binneste hoor kreun van verdrukking en omdat dit my aanraak. Ek is Afrikaan omdat ek met my hande kan eet en op my kniee kan lewe.

    Ek is nie Afrikaan nie, omdat ek die swaarkry van mense gesien het en dit nie verstaan/beleef het nie. Ek is nie Afrikaan nie, omdat ek bang was dat my kar gesteel gaan word en nie weet hoe dit voel om bang te wees dat my kinders ge-necklace gaan word nie. Ek is nie Afrikaan nie, omdat ek nie weet hoe dit voel as my onderwysers nie opgedaag vir my Wiskunde klas nie. Ek is nie Afrikaan ek nie weet hoe dit voel omdat my nooit by die huis is nie omdat sy in iemand anders se huis werk en in iemand anders se huis werk nie… etc etc ad nauseam

    Maar dan is Thabo Mbeki seker ook nie ‘n Suid Afrikaner nie. En dit is miskien hoekom hy nie uitkyk vir die deursnit (lees gemiddelde) Afrikaan in Afrika nie.

    Die vraag is seker of blanke Afrikaners eintlik maar net mense is wat in Afrika woon en so bang is dat hulle nie inpas nie en uitgegooi word dat hulle hulself met die hele Afrika-ding vereenselwig ? Die ander kant is seker dat blanke Suid-Afrikaners nie regtig (?) ‘n ander heenkome het nie, en dit is miskien wat hulle Afrikaan maak.

    Arabiere in Sudan is ook seker Afrikane, maar ek dink aan hulle as indringers. Amerikaners is wit, uitheems en tog somehow ten volle Amerikaans. Inheemse Sudanese is so lig van gelaat dat die Weste hulle nie as Afrikane insien nie en nie vir hulle bystand wil gee nie…

  12. Ek dink die hele konsep van Afrikane is ‘n bietjie van ‘n “stretch”. Ek is ‘n Suid-Afrikaner (en ek praat nie van my burgerskap nie!) – maar hoe kan ek my ooit vereenselwig met mense van Mali, Egipte of Burundi? Ja, ons kan se “alle Afrikane is swart” (of ten minste nie wit nie?) maar ek sou se velkleur is ‘n slegte aanwyser van Afrikaan-wees (of enigiets-wees!). Ons kan sommetjies maak en vra wie kan bewys hulle voorouers was al langste daar. Maar hoekom, dan, bevraagteken blanke Australiers nie of hulle werklik Australies is nie?

    Ek weet ons is tans almal verlief op die idee dat so ‘n ding soos ‘n Afrikaan werklik bestaan (ich bin ein Afrikaan??), maar ek beskryf myself as ‘n Suid-Afrikaner – klaar. Of ek hoegenaamd inpas by die res van Afrika, weet ek nie – maar dan kan jy dieselfde vraag vra oor die land van Suid Afrika. Ons sit so met die een voet in die eerste- an een voet in the derdewereld en lyk my ons pas nie so lekker in by ons bure nie. So dit skeel my glad nie of ek myself as Afrikaan kan beskryf of nie.

    Maar Suid-Afrikaans sal ek altyd wees. Hoekom? Want ek praat Afrikaans en dis ‘n taal wat in Afrika opgegroei het. (Mense dink dis nog maar Hollands, maar praat vir ‘n minuut met ‘n Hollander en jy sal sien dis nie so nie.) Want daar voel ek nooit soos ‘n vreemdeling nie. Want (soos jy, Mieliepap) ek huil as ek Ladysmith Black Mambazo hoor (ek het selfs gehuil vir die Eskom advertensie van so 5 jaar terug met die liggies regoor Afrika, en die Telkom advertensie met die ou wat ‘n nuwe telefoon kry en nog steeds vir sy buurman op die volgende koppie goeiemore skree…). Want dit is waar my oupas- en oumagrootjies ens. ens. begrawe is, en waar ek my ma se asse in die see gestrooi het.

    Ek dink jy slaan die spyker op sy kop as jy se dat ons vasklou aan Afrikaan-wees omdat (sodra ‘n mens in die buiteland gereis het) ons besef daar is niks anders wat ons kan wees nie. Ons is nie Europees nie, ons was nog nooit amerikaans of Asiaties nie, laat staan nog Kanadees/Australies. So ons bly maar “proudly” (meestal) Suid-Afrikaners – for better or worse!

  13. Weereens.

    Hoeveel onse is daar in jou pond?

  14. hierdie onse is definitief nie in my pond nie.

  15. Jammer dat ek soos mosterd-na-die-maal so aan die stertkant van hierdie debat inval, maar mag ek die volgende van my hart af kry:

    Ek is nie ‘n Antjie Krog-fan nie omrede sy neig om suinig met objetiwiteit te werk te gaan. Persoonlik dink ek Rian Malan se “Traitors Heart” is baie eerliker en meer objektief as Krog se Tongval (in hierdie spesifieke genre).
    Hoort die blanke in Afrika? Nee, maar dit help nie nou om oor te kla nie, want die blankes is reeds in SA vir verskeie generasies. As ek besluit om in Korea te bly, maak dit van my ‘n Koreaan? Nee. Ek sal nooit ‘n Koreaan wees nie, maar wel ‘n “Koreaanse burger van Westerse afkoms”. Net so, kan ‘n blanke per definisie nooit werklik ‘n Afrikaan wees nie (al wil hy/sy hoe graag). Daarom is ek lief daarvoor om na “Euro-Afrikaan” te verwys. Blankes in SA en Afrika se geskiedenis en kulturele herkoms le spesifiek geslote in die Weste (Nederland, Frankryk ens.). Dis waar die Euro-Afrikaan se waardes, uitganspunte ens. vandaan kom. Om Afrikaan te wees en waarlik Afrikaan, beteken vir my om werklik die Afrika-kultuur te omhels en jouself een te vind met Afrika-denkwyses en uitgangspunte. Dis maklik om te verklaar: “Ek is ‘n Afrikaan!”, maar daar so min van diegene wat in hierdie euforie opgesweep word, wat besef wat dit beteken.
    Mense wat emigreer, emigreer nie weg van hulle Afrikanerskap nie. Daarom die blywende soeke en hunkering na hulle kultuur en taal. Daar is nie meer ‘n ware Vaderland nie, maar hulle klou steeds aan hulle kultuur.
    Persoonlik het ek geen behoefte om ‘n “Afrikaan” te wees nie (want ek sal nooit een kan wees nie). As jy jouself egter met die Afrikaan se uitgangspunte, wereldbeskouing en waardes kan vereenselwig, kan jy miskien hoop om na generasies as ‘n geassimileerde Afrikaan beskou te word. ‘n Ware Afrikaan sal jy nooit wees nie…

  16. Boer, ek hou baie van jou antwoord ! Dankie

  17. BiB, jy voer aan dat jy nie ‘n Koreaan sal wees nie, maak nie saak hoe lank jy in Korea woon nie; ook dat jy eerder die term Euro-Afrikaan verkies. Hoe verskil jy dan van, byvoorbeeld, wit en swart Amerikaners wat hulleself skroomloos “Americans” noem? (Die term “African American” maak Snoop Dog en Mr T tog nie minder Amerikaans nie?)

    Volgens jou logika is die enigste ware Amerikaners Indiane.

    Wat presies is ‘n Afrikakultuur? En hoekom moet Afrikane dit nastreef? ‘n Zulumeisie met Freshly Ground, Fokofpolisiekar (glo dit of nie) Mzekezeke en Zola op haar iPod en Black like Me haarkleursel in haar Afro neig veel meer na Europa- as Afrikakultuur.

  18. Dit is opwindend om hierdie bespreking oor identiteit te lees en te sien hoe ons as afrikaners en suid-afrikaners se denke ruimer geword het. Want glo my vry, 25 jaar gelede in die ’80’s toe ek ‘n tiener was, was daar geen bespreking hieroor gewees nie. ‘n Afrikaner/Suid-Afrikaner is blank, praat Afrikaans en behoort aan die NG Kerk!! En ja, wie ons is, is kompleks en daar is nie een kassie waarin ons almal pas nie. En dis die challenge vir elkeen van ons: hoe lewe ek met al hierdie dimensies wat nie altyd so lekker bymekaar pas nie? Hoe hou ek vrede tussen my europese/westerse denke en my afrika-passies? En as jy in die buiteland woon, hoe “fit” ek daai deel nou in by die res? Vir my werk dit om al 3 (europa/afrika/amerika) so saam te “juggle” – as die SA volkslied speel, huil ek dat die sop spat en as ek die “4th of July” parade hier bywoon, dan wel ‘n trots op vir hierdie land waar ek bly – en behoede die siel wat neerhalend praat van Afrika of Amerika!

  19. Johan, itv “Afro-Americans”, is dit presies my punt. Hulle verkies om na hulself te verwys as “Afro-Americans” en nie suiwer “Americans” nie. As jy jou rug draai, verwys hulle na hulle “roots” en hoe hulle weggevoer is uit hulle “geestelike” tuiste wat Afrika is. In ‘n stad soos New Orleans kry jy baie keer ‘n Afrika-gevoel, met gebruike soos Voodoo vanaf Wes-Afrika wat onder andere voorkom. Hulle is wel Amerikaners, maar hulle hunker terug na hulle Afrika-herkoms. Hulle pen hoofsaaklik hulle identiteit af en het oa Afro-American bewegings en organisasies. Hulle deel ook die Afrika slagoffer-sindroom deur so maklik en gerieflik gou te verwys na diskriminasie teen “Afro-Americans” ens. Net onlangs was daar so ‘n geval met die NFL-ster, Vicks. Hy het onwettige hondegevegte gehou en is geskors en vervolg. Onmiddellik het die stemme opgegaan dat hy geviktimiseer word omdat hy ‘n Afro is. Die Afro-Amerikane omhels gerieflik die VSA, maar in hulle harte hunker die sentimentele verlange na Afrika – hulle “ware” heimat. Jy kry oa dieselfde met Kotreaanse gemeenskappe wat al vir generasies in Rusland en China woon. Gaan besoek hierdie gemeenskappe en jy vind miniatuur “Koreas”.

    Die enigste ware Amerikaners is nie Indiane nie. Dit was Indiane, maar hulle is op die wreedste denkbare manier uitgemoor deur die blanke setlaars (dis nie retoriek nie – dis geskiedkundige feite). Die blanke setlaars het dus die gebied oorgeneem en hulle hegenomie gevestig, met die Indiane wat so in die minderheid is, dat hulle geen rol meer speel nie.

    Jy vra oor die Afrika-kultuur? Onthou net jy kan nie die aanvaarding en omhelsing van Westerse gebruike, modes ens. gelykstel aan ‘n Westerse kultuur nie. I-Pods, haarstyle, BMW’s en selfone verander nie mens se kultuur nie. Ek wou graag hier vir jou presies beskryf hoe ek die Afrika-kultuur sien, maar dan raak hierdie comment te lank. So, in kort: As jy Afrikaan wil wees, moet jy die Afrikaan se musiek luister, hulle sport ondersteun, vir hulle politieke partye stem, saam in die sjebeens kuier en drink wat hulle drink, inisiasie ondersteun, saam slag aan die bees in die agterplaas, die voorvaders eerbiedig ens. ens. In hierdie verband dink ek dat ‘n persoon soos Johnny Clegg ‘n goeie voorbeeld is van ‘n persoon wat hom ‘n Afrikaan kan beskou. Ironies genoeg, word daar na hom verwys as die “wit Zoeloe”.

  20. Ah ha, dankie vir die opklaring.

    Kyk, ek is geneig om tot op ‘n punt met jou saam te stem. En toegegee, as dit jou definisie van ‘n Afrikaan is, is ek sekerlik ook nie een nie. Teoreties praat ons verbymekaar, want wat jy anders as ek doen, is om ‘n inherente betekenis aan die begrip “Afrikaan” toe te dig. Myns insiens kan dit nooit so eenvoudig wees nie. As so iets jou definisie van ‘n Afrikaan is, is die derduisende mense wat jy tradisioneel as sodanig beskou, ook nie juis Afrikane nie.

    Neem die sjebeens waarvan jy praat. Dit klink vreeslik Afrika, totdat jy ‘n bietjie opleeswerk gaan doen en agterkom dat die oorsprong van die woord Iers (en dus uiters Westers) is. Dieselfde met musiek en sport. Hoewel die swart stamme van toeka verseker musikale gebruike gehad het, twyfel ek of “musiek” dieselfde gebruik kan word vir Afrikane (soos jy hulle definieër) as vir sogenaamde Westerlinge. Enigiets meer as sang en ritme vir rituele doeleindes of die gesange van ‘n imbongi is tog heeltemal Westers.

    Mag ‘n Afrikaan viool speel? Paaie gebruik? Stem in ‘n verkiesing?

    Sport is ook glad nie ‘n konsep wat deel is van Afrikane (soos jy hulle definieër) nie. Behalwe as oorlog tel as sport. En politieke partye? Dis gewis Westers.

    Dat my voorouers rondgery het in ossewaens en Engelse geskiet het, maak nie van my ‘n ossewaryer en ‘n pommie-hater nie. Dat my ouers Christene is maak my nie noodwendig ‘n Christen nie. Identiteit gaan om die herinneringe van ‘n kollektiewe geheue. Dis elke geslag se eie keuse of hulle daardie herinneringe wil aanhang en / of uitwis.

    Xhosas en Zulus is, op ‘n linguistiese vlak, kulture wat die Westerse kerk geskep het. Die ontwikkeling van die verskeie Ngunitale was die gevolg van verskillende (Westerse) denominasies se sendelinge, wat elk ‘n paar stamme vir hulleself afgekamp het. (Dieselfde het in Zimbabwe met die Ndebele gebeur.) isiXhosasprekendes kan isiZulusprekendes sonder moeite verstaan, omdat hulle in wese eintlik dieselfde taal praat – elkeen net ‘n variasie van hulle eie, wat ontwikkel het soos die tyd aangegaan het.

    Tog kry jy vandag Xhosas en Zulus wat aanvoer dat hulle taal déél is van hulle. Tot in so ‘n mate is daar hierop aangedring dat ons vandag met 11 amptelike tale sit. Dit terwyl daar in wese maar iets soos 6 unieke tale in hierdie land is.

    My punt met hierdie laaste twee paragrawe? Identiteit is ‘n kulturele konstruk. Om te dink dis ‘n inherente eienskap, is absurd. Kulturele konstrukte was nog nooit ewiggeldend nie. Alle identiteite van alle volke op hierdie planeet het oor tyd ontwikkel. It wasn’t there to begin with. En “Afrikaan,” soos jy dit beskryf, is ‘n vreemde konglomeraat van inheemse en Westerse gebruike. Daar is nie wérklik iets soos ‘n suiwer volk nie. Hitler (en, as ek my tong in die kies mag druk, Etienne le Roux se onvoltooide, suiwerste Hugenoot) behoort dit mooi te illustreer.

    Ek kies om die begrip Afrikaan steeds verder te ontwikkel en dit op my klein manier ‘n ander semantiese lading te gee in ‘n land waar dit kwalik nog sin maak om elkeen apart te lewe op grond van jou identeit. (Zulu’s is tog in elk geval nie Zulu’s volgens jou nie – hulle is Neanderthal men van midde Afrika. Ek ook. Jy ook.) Identeit ontwikkel gedurig. Hoekom nou skielik besluit om daardie ontwikkeling te staak?

  21. Dat daar nie iets soos ‘n suiwere volk is nie, het ek ek dit 100% eens met jou. Alle volke ontwikkel oor tyd en deel baie invloede. Die kulturele interaksie oor duidende jare tussen die Chinese, Japanese en Koreane dui byvoorbeeld hoe hulle mekaar beinvloed het en watter kulturele ooreenkomste daar tussen hulle is. Dus ontwikkel kultuur wel oor tyd heen.
    Maar daar is sekere aspekte wat eie is aan die Ooste en ander aspekte wat eie is aan Afrika ens. My “definisie” is nie werklik ‘n definisie nie, maar slegs ‘n aanduiding van wat ek bedoel. My hele punt is dat “when in Rome…”. Jy mag jouself miskien as ‘n Afrikaan beskou (op grond van wat, weet ek nie), maar per definisie is jy nie een voordat jy jouself kan assosieer met ‘n Afrika-kultuur nie (bv. Johhny Clegg). Kultuur is gebou op gedeelde geskiedenis, gedeelde taal, gedeelde gebruike, spesifieke kosse ens. ens. Anyway jy weet wat kultuur is, so ek hoef jou dit nie uit te spel nie. Daar is verseker nie een “Afrika-kultuur” nie, maar die verskeidenheid van Afrika-kulture het baie gemene delers (nes Korea, China en Japan). Dus vind jy baie kulturele aspekte wat uniek is aan Afrika. So het elke kontinent en land spesifieke eienskappe wat uniekheid tot gevolg het.
    Dat jou ouers Christene is, maak wel nie van jou ‘n Christen nie, maar jy gaan wragtig sukkel om ‘n Chinees te oortuig hy is nie ‘n Chinees nie, veral as albei sy ouers ook Chinees is.

    Ek glo wel ons redeneer verbymekaar. Wanneer ek na sjebeens, sport ens. verwys, verwys ek nie na die semantiek nie (mens kan mos nie redeneer dat restaurante slegs deel van die Franse kultuur is, slegs omdat die woord ‘n Franse oorsprong het nie!). Ek verwys na gebruike, gewoontes en hoe mense leef. As jy sport neem, is dit so dat sokker (by verre die sport van keuse in Afrika) van westerse oorsprong is. Maar hulle het dit aanvaar en deel gemaak van hulle kultuur. Ek hoop jy sien die punt dat die oorsprong van woorde en gebruike ens. nie sodanige sport ens. beperk tot die kultuur van waar dit die oorsprong het nie. So ook met politieke partye, vioolspeel ens. Om gebruike en aspekte van ‘n ander kultuur te inkorporeer in jou eie kultuur, beteken nie jy gee jou kultuur op nie.
    Ek verskil heeltemal van jou oor Afrika-musiek. Om te wil redeneer dat musiek in essensie ‘n Westerse konstruk is, is vir my effe rassities en entnosentries en ek wonder wat Afrikane (en Oosterlinge) daaroor sou se. Maar ek dink nie dis soos jy dit bedoel het nie.
    Ek verskil ook van jou oor die linguistiese oorsprong van Afrika-tale en dat jy wil suggereer dat sendelinge actually taal en volke geskep het. Dit beteken weer eens dat jou argument neig in die rigting dat daar nie volke en tale in Afrika was nie en dat die Weste dit vir hulle kom skep het???? En waar het die San hulle taal vandaan gekry?

    Ek dink al wat ek se is dat daar iets soos verskillende volke, met verskillende kulture is. As jy ooit gewonder het of dit regtig so is, kom kyk na die Ooste, want dis ‘n ander wereld! Of jy dit nou wil weet of nie, jy word binne ‘n sekere volk gebore. Of jy natuurlik, wanneer jy verstand kry, self kan besluit of jy deel wil wees van daardie kollektief – dis jou keuse. Jy kan besluit jy wil nie ‘n Afrikaner wees nie, al praat jy die taal. Maar om jouself “Afrikaan” te noem, sonder om jou met met ‘n Afrika-volk se leefwyse en kultuur te vereenselwig??? Is dit nie bietjie arrogant nie? Hoe kan jy jouself as Afrikaan eien, terwyl jou taal, gewoontes, ens in essensie van Europese afkoms is? Mens kan kultuur baie breed definieer en baie toevoegings tot definisies maak, maar dit gaan ongelukkig nie die realiteite verander nie.

  22. Terloops, dit sou baie snaaks wees as John Howard van Australie skielik na homself sou verwys as ‘n Aborigine…🙂

  23. Hehe.

    Soos ek sê, ek is in akkoord met 99% van dit wat jy sê. En ek hou mos eintlik daarvan om duiwelsadvokaat te speel😉

    Die linguistiese oorsprong van Afrikatale is nie my storie nie, ek haal aan uit navorsing wat Dr Neville Alexander met my gedeel het. Ek bedoel ook glad nie dat die volke deur Westerlinge geskep is nie – my opmerking (en die navorsing) het net betrekking op die ontwikkeling van dit wat ons vandag as verskeie Afrikatale sien. Dis ‘n linguistiese opmerking, wat seker sin maak as ‘n mens kyk na dit wat ek swot.

    “Hoe kan jy jouself as Afrikaan eien, terwyl jou taal, gewoontes, ens in essensie van Europese afkoms is?”

    1. Baie moeilik. (Veral my eie godsdienstige oortuigings dekonstrueer dalk my eie standpunt om mee te begin.)
    2. Hier sit ons steeds met die probleem van Amerika. Daar het soveel tyd verbygegaan dat ek sterk twyfel of die sogenaamde African-Americans hoegenaamd nog Afrikagewoontes in hulle het. Wat presies is hulle identiteit dan?

    Dankie vir hierdie gesprek, ek geniet dit gate uit.

  24. Dankie aan Mieliepap dat ons hierdie blog kan inspan vir die debat. En inderdaad ja, dis lekker om gedagtes oor identiteit rond te gooi. 🙂

  25. […] – Ek onderneem hierdie steekproef na aanleiding van ‘n stimulerende gesprek met die gedugte Boer in Ballingskap. Verskoon hierdie inskrywing as jy gatvol is vir daai berugte […]

  26. 1.Ek is ‘n Afrikaner. Want ek praat afrikaans, het ‘n afrikaanse kultuur en geniet dit om ‘n afrikaner te wees!
    2. Ek is ‘n Suid – Afrikaner. Want ek bly in die land Suid Afrika, is hier gebore en het ‘n ID dokument wat se ek is ‘n burger. Ek het nie ‘n ander land of huis nie, hou nie van die ander lande se kultuur nie en voel ontuis buite Suid Afrika – soos om te kuier by mense wat nie my se mense is nie. Ek het dit terdee besef tydens my studieverblyf in Amerika.
    3. Ek is ‘n Afrikaan. My voorouers – sy naam is op daai koperplaaitjie by die Kasteel se ingang, het hierdie kontinent gekies nog voor hier lande was – en ek is na 10 geslagte nog steeds verknog aan hierdie kontinent met sy wit, bruin, geel en swart inwoners met hulle terduisende tale, kulture en gewoontes – waarvan ek een kultuur, kleur en taal verteenwoordig.
    Ek is nie ‘n Euro-Afrikaan nie! Daar is nie so ‘n ding soos ‘n Afro-American nie! Dis ‘n gruwel wat hom draai soos die wind waai – erger as ‘n stukkende windpomp. Jy is of ‘n ding of nie.

  27. Jinne, ek los julle vir twee dae alleen en kyk wat maak julle ! Loop sommer oor na ander blok soos hans-kaki’s! Dankie vir julle input. Dit begin al hoe duideliker vir my ook word.

    Wat ek wel dink nog te explore is (miskien later), is hoekom ons soveel van ons identiteit hierop bou. Daar is so baie goed wat ons identieit opmaak. Hoekom is ons so erg sensitief oor hierdie spesifieke eienskap en hoekom raak ons so vinnig defensief as iemand dit durf bevraagteken. Dit is amper asof hierdie Afrikaan/nie vraag op die vlak van geloofsoortuiging lê. Soos julle sê, dit is ‘n kulturele konstruk, so wat maak dit so gelaai ?

    As iemand vir jou uitdaag oor of jy goedhartig (ook tog iets wat jou identiteit definieer ) is, dan gaan jy sekerlik nie so emosioneel/defensief daarop reageer nie, maar meer ‘n rasioneel. Soos vantevore in die post genoem het dit seker uit te waai met die gevoel dat blanke Suid-Afrikaners ongewens is in Afrika en indringers orals anders.

    Johan laat weet wat jou bevindinge is.

  28. roger

  29. Mieliepap, hoekom is jou hand so voor jou mond? Lyk of jy jouself raakgebyt het!🙂

    Miskien moet mens ‘n onderskeid tref tussen karakter (goedhartigheid ens.) en identiteit. Daar is natuurlik ook diegene wat sal se hulle identiteit le slegs in Christus – hulle is Christene en ander identiteits-etikette is vir hulle irrelevant.

  30. Ek hoor wat jy sê, maar ek glo wel dat karaktereienskappe jou identiteit bepaal en selfs meer belangrik is as goed soos of jy ‘n Afrikaan is. Jou identiteit is immers dit wat jou jou maak en dit waaraan jy vashou of jy wonder wie en wat jy is ? Dit is hoe jy jouself beskryf as ‘n unieke oftewel diskrete entiteit, wat noodwendig jou karaktereienskappe gaan insluit?

    Onlangs gesprek oor die onderwerp met iemand gehad en hulle het belowe hulle sal hulle (baie interessante) idees hier kom post. Dit swaai my baie meer na Johan se manier van dink oor die Afrikaan-id.

    My hand is voor my mond a.g.v. verbystering oor die wonderlike goed wat ek elke dag leer en/of oor die verbysterende ontnugteringe wat ek daagliks beleef🙂

    Ek dink dit is effens naïef of te dink dat mens se id omkoepelend deur Christenskap beskryf kan word – hoe boring. Maar jy is reg, daar is vele wat so kan dink.

  31. Ek dink dis geldige vrae, maar ek dink deels wys dit net die probleem van groepsidentiteit uit. Wie is die gate keeper? Wie kan besluit wie is deel van die groep en wie is nie? Groepsidentiteit is baie vager as wat meeste mense toeken: dis dikwels ontstellendend om met mense te praat wat dieselfde naam gee aan hul groepsidentiteit want gereeld vind ‘n mens hoe verskillend hulle sien van die groep is – o.a. wie is ingesluit, wie is nie, wat is die gedeelde karakter, wat is die gees van die groep.

    Alhoewel ek nie die geworstel met ‘n mens se groepsidentiteit wil ontken nie, dink ek dis dikwels veiliger om ‘n mens se identiteit grootliks te anker in individuele karaktereienskappe (e.g. Anna Bezuidenhout is gaaf en gee om vir mense. Anna B hou van kuns en reis. Anna B is charismaties) eerder as in groepsidentiteit wat vaag is en dus nie veel inhoud het noodwendig nie en wat baie minder veilig is omdat dit berus op ‘n tipe implisiete groepskonsensus volgens my.

    Verder, ek geniet dit om as wit meisie swart mans te skok deur te se ek is “African” en vir hulle te vertel dat my voorouers al lankal in Afrika woon en ek min bande oor het met Europa. In die res van Afrika is dit ‘n storie wat hulle nie ken nie. Ek sien sin daarin om na die universiteit se African society vergarderings te gaan al kan ek sien dat dit gesprekke bemoeilik. Hoekom? Want ek dink groepsidentiteite word verryk as dit bevraagteken en gekompliseer word. Miskien is dit goed dat swart Afrikane begin dink en wonder oor wat dit beteken om ‘n Afrikaan te wees. En dat wit Afrikaners besef daar is nie-blanke Suid-Afrikaners wat hulself Afrikaners noem. ‘n Groepsidentiteit wat gebou is bloot op ras is in elk geval nie een met veel substans nie! Dit impliseer dat die sentraalste deel van jou menswees vasgevang kan word in jou velkleur, ‘n genetiese toevalligheid wat somtyds saamval met ander dinge wat ‘n mens waardeer en waarmee ‘n mens wil assosieer en wat ‘n mens wil bevorder, maar volgens my ervaring net so dikwels nie.

    Ek is ‘n blanke Afrikaan. Anders as meeste ander Afrikane het ek ‘n wit vel, maar ek is gebore in Afrika en lief vir en verbind tot die kontinent en sy mense.

  32. As ek so na al die standpunte kyk en na my lese van Johan se inskrywing op sy blog, kom ek tot die slotsom dat elke individu op die ou-end self besluit wat hom/haar maak wie of wat hy/sy is.

  33. […] – Ek onderneem hierdie steekproef na aanleiding van ‘n stimulerende gesprek met die gedugte Boer in Ballingskap. Verskoon tog as jy gatvol is vir daai berugte A-woord.) […]

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: