Baarmoedersgereg

Twee van ons vriendinne het onlangs swanger geraak. Wat my opgeval het is:

  1. die ongelooflike lang lys van goed wat nie geëet moet word nie
  2. die net so lang lys van goed wat geëet moet word
  3. die lang lys van goed wat nie gedrink moet word nie
  4. die lang lys van aktiwiteite wat vermy moet word
  5. die blootstelling aan (en vatbaarheid vir) siektes wat vermy moet word.

Indien hierdie reëls nie taamlik streng gevolg word nie staan jy ‘n goeie kans om:

  1. jou lewe/gesondheid in gevaar te stel
  2. jou baba se lewe/gesondheid in gevaar te stel
  3. jou baba se fisiese ontwikkelling te belemmer
  4. jou baba se intellektuele ontwikkelling te belemmer
  5. jou baba se immuniteit en toleransie vir siektes en kwale nadelig te beïnvloed.

Natuurlik is die toekomstige ouers baie gretig om die beste te doen en die reëls te volg, maar hulle verseker my dat, selfs in Engeland, is dit baie moeilik om byvoorbeeld die regte kosse in die hande te kry en die verkeerde te vermy. Die probleme is maar beskikbaarheid, koste, tyd en courteousness (sogenaamde goeie maniere) as jy by mense kuier (dan moet jy maar eet wat voorgesit word).

Hoekom vertel ek dit vir jou ?

Ek vertel dit vir jou, want ek hoor baie van mense wat (te) naby aan my is, dat “arm mense ondergeskik is“, ‘n stelling wat my diep grief en affronteer, en my wêreldbeeld dwars teen die bors stuit.

Wat ek wel glo waar is, is dat jy nie appels met pere moet vergelyk nie. Die manier wat die wêreld opgestel is, hier en nou, is dat welgestelde mense vir jare al met die bogenoemde metodes verseker dat hulle kinders die beste kans moontlik het. Hoekom doen hulle dit ? Eerstens, omdat hulle oor die nodige middele beskik, en tweedens omdat hulle ingelig is. Die armste mense is bloot nie in staat daartoe om hierdie luukses te bekostig nie, selfs al het hulle die inligting tot hulle beskikking, wat baie onwaarskynlik is. Hierdie is iets wat bekend staan as ‘n “poverty trap” (armoede lokval/sinkgat ?). Die kringloop laat die ryk-ingeligtes elke geslag beter af, en die arm-oningligtes slegter af.

Kyk na die arm mense langs jou. Ek glo dat mense (as ‘n gemiddeld oor “mens”) met dieselfde vermoëns en potensiaal beplan (DNA) en geplant (sperm+eier) word. Maar as gevolg van die numeriese lys bo aan hierdie pos, word baie van ons met ‘n agterstand gebore. ‘n Agterstand wat nie enige iets met die baba se DNA, nog sy klas uit te waai het nie. Maar wat uit te waai het met sy ouers, hulle opleiding, hulle bewustheid en hulle finansiële vermoëns, en laastens, meer belangrik (as ‘n root cause): Dit het uit te waai met die mensdomse menslikheid:

As die mense wat wel baie het en wat ingelig is, genoeg omgegee het vir hulle medemense, sou hulle nie terug gesit het en beruspe het: “Tut, tut, hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dan sou hulle vorentoe gesit het en gehelp het:” My liewe mensie, eet hierdie vis vir jou kind se breinontwikkeling, hier is vir jou ‘n bottel gepasteuriseerde melk, hier is vir jou ‘n malaria net, en hier is vir jou ‘n boek wat vir jou sal vertel wat om te eet en drink om seker te maak dat jou kind nie met ‘n agterstand gebore word nie. Want ek en jy weet dat daardie onregverdige agterstand, is nie regverdig nie. Ek en jy weet dat daardie onregverdigheid broei afguns en haat.”

Ek sê vir geen oomblik dat hierdie die enigste (of grootste) faktor is nie. Daar is goed soos genetiese en sosiale verskille tussen groepe van mense, wat ook ‘n groot verskil maak. (Ek dink byvoorbeeld aan die groot hoeveelheid baba’s in die Boland wat met fetale alkohol sindroom gebore word, of die hoeveelheid alkohol en slegte kos wat die Engelse inneem tydens swangeskap). Ek se ook nie dat harde werk nie van hierdie agterstande kan oorkom nie. Ek se glad nie jy wat ryk en ingelig is, is beter as jou arm bure nie, jy het bloot ‘n onregverdige, sosio-ekonomies bevoordeelde disposisie, en dit behoort in jou ‘n sin van welsyn wakker te maak, as jy dan so goed is.

Wat my die joos in maak is dat dit in die kollektiewe mens se hande is, dat kinders wat op redelike gelyke voet gemaak is, ongelyk gebore word.

My vrou het gevra dat ek net moet byvoeg. As jy in ‘n baie arm land is, gaan die verskil wat jy as kind agv die lys hierbo se effekte ervaar redelik laag wees, die meerderheidsimpak gaan nurturing en sosiale omstandighede wees, en hoe hard jy bereid is om te werk. Maar as jy in ‘n ryker land is, kan die verskil baie hoër wees, omdat die res van die speelveld meer uitgebalanseer is.

~ by mieliepap on 24 May, 2008.

4 Responses to “Baarmoedersgereg”

  1. mmm, interessant. Val SA onder ryk land of arm land in daardie laaste paragraaf? Ek het in Engeland regtig die idee gekry dat dit baie moeiliker is om jouself uit jou eie klas uit te verhef na ‘n hoër klas as in SA. Daar is die kans dat jy maar in dieselfde klas as jou ouers gaan leef baie groter as hier voel dit vir my. Ek het die teorie dat dit is hoekom hulle sulke afgode maak van popsterre en sokkerspelers. Juis omdat daardie celebs die uitsondering op hierdie reel is.

  2. mmm ek het lekker gelees

  3. Baie goeie stuk en uiters ware punte wat jy maak. As ek ‘n paar eiers kan le:

    Dan kom ons by die eerste 5 jaar van ‘n kind se lewe. Dit is vir die ontwikkeling van die brein en ander funksies die heel belangrikste 5 jaar van ‘n mens se lewe.
    As jy swak eet is daar implikasies vir die res van jou lewe, en dan die simulasie met dinge soos blokkies bou, knip-en-plak, kleure, vorms, kommunikasie, ag hoe lank is die lys nie.

    En dan later die leer van sosiale vaardighede, emosionele volwassenheid, oplos van probleme.

    Armoede ontneem jou van soveel.

  4. Dis so waar, en die ironie is dat selfs arm mense se kinders al hierdie goed kan hê as hulle net meer ingelig was. Die REGTE kosse hoef nie die duurder kosse te wees nie, daar is goedkoper alternatiewe, opvoedkundige speelgoed kan maar blikkies vir bou, ou tydskrifte, uitskeer, en baie gesels wees. Die punt is net dat hulle eenvoudig nie WEET nie…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: