Online rassisme toets

Die toets: click

Ek het nou al die sensitiewe snaar van ras aangeraak en ek is nog nie heeltemal uitgewoed nie, so laat ek dit nou maar klaar maak.

 

Ek het werklik nie gedink dat ek rassisties is nie.

Ek is van die goeie ou Wes-Transvaal waar die blankes maar donker van gelaat is, en veral ook ek.

 

Toe ons in die Uk aankom het dinge ‘n nuwe perspektief gekry. Ek moes ‘n taxi neem vir die onderhoud wat ek by Rolls gehad het. Die taxi-bestuurder was ‘n Pakistani. Toe ek in die kar klim, het hy gevra of ek vir ‘n ondehoud gaan (suit aangehad en alles). Hy het my toe begin motiveer en aanmoedig vir die onderhoud. Net voor ek uitklim het hy gevra of ek van Pakistan afkomstig is. Sedertdien het ek besef dat trein stasie sekuriteitswagte se lui oë my hande volg, asof ek ‘n geweer gaan uitruk. Ek is gewoonlik die een wie se sak deursoek word by die sekuriteit-hekke by lughawens en my een kollega noem my “black” (like him).

 

Dit het sedertdien vir my duidelik geword dat dit maklik is om in RSA as blanke te sit en sê – ” Ek is nie ‘n rassis nie”. Dit is egter verligtend om in Engeland te wees en te wens dat jou velkleur so paar skakerings ligter was. Sien, die feit dat ek nie wil hê mense moet dink ek is nie-blank nie, beteken sekerlik tog dat daar wel krummels rassisme in my wegkruip…

 

Ek het verlede jaar die boek Blink gelees. Dit gaan daaroor dat mense op eerste oog-opslag ‘n oordeel oor mense (en dinge) fel. Deel van die boek beskryf dan ook hoe mense swart met sleg en wit met goed assosieer (selfs swartes!). Die toets is eenvoudig, maar te moeilik om hierdie tyd van die aand op my blog te beskryf, gaan doen dit gerus en voel die huiwering wanneer jy swart en goed moet assosieer, en wit met sleg: click

~ by mieliepap on 5 August, 2007.

9 Responses to “Online rassisme toets”

  1. Miskien het hierdie ras-uitkenning in die VK meer te doen met die paniekerigheid rondom terrorisme (spesifiek Moslem-terrorisme) as met rassisme. Die Moslem militantes doen Islam en mense van meer Oosterse afkoms, oneindig skade aan.

  2. Ek ken nie die boek Blink nie, maar dit klink baie interessant en die kern idee daarvan is baie waar.
    Ek vind dit bv. baie hartseer dat Indiese en Chinese vriende en kollegas nie die enkele, kosbare sonnige dae wat ons in Engeland het, saam met ons buite kan geniet nie. Hulle vermy die son soos die pes want hulle wil nie enigsins donkerder word as wat hulle natuurlike velkleur is nie. Hoe ligter, hoe mooier, sê hulle. Ai!

    Ek het ook simpatie met jou dilema. Ek het ‘n Hollandse vriendin wat redelik blas is en sy het al baie soortgelyke stelle afgetrap. Eenkeer op vakansie in Amerika het sy ‘n serp om haar kop gedraai teen die koue en die bank het sowaar geweier om haar te laat geld trek uit haar eie rekening uit! Hulle het eers toegegee toe haar blonde, blouoog man kom mooipraat het.
    Boer in Ballingskap is sekerlik reg dat dit nie regtig rassisme is nie, maar dit is nog steeds baie onaangenaam vir almal wat aan die ontvangkant van sulke ‘spesiale’ behandel is.

  3. Definisie van rassisme is presies dit, om mense anders te beoordeel/behandel gebaseer op ras. Rassisme het nie noodwendig met jou nasionaliteit of etnisiteit uit te waai nie, maar met jou velkleur.

    “a policy, system of government, etc., based upon or fostering such a doctrine; discrimination, hatred or intolerance of other race or other race. discriminatory or abusive behavior towards members of another race.”

    Die feit dat ek soos ‘n midde-oosterse persoon lyk, maar nie is nie; die feit dat hulle dink ek is midde-oosters, en dienooreenkomstig (mis) behandel, neem die die feit weg dat dit rassisme is nie.

  4. Wat jy eintlik se is dat die agterdogtigheid jeens mense van Midde-Oosterse afkoms nie te doen het met terrorisme nie, maar te doen het met rassisme? Jy woon daar, so jy behoort seker beter te weet. Ek wonder of Noord-Iere en Iere tydens die hoogtepunt van die “Troubles” in Noord-Ierland ook met agterdog bejeen is? Ek weet nie. Maar as hulle met agterdog behandel is, is dit dan nie rassisme nie? of wat sal mens dit noem? “Etnisisme”?

    Ek dink nie rassisme gaan net oor velkleur nie, maar wel oor etnisiteit. Een van die wreedste en vinnigste volksmoorde in die geskiedenis (Rwanda) het nie oor velkleur gegaan nie, maar wel oor etnisiteit. En ek dink ook dat midde daardie konflik Hutu’s en Tutsi’s vice-versa met baie meer agterdog bejeen is, as bv. Moslems in Engeland. Dieselfde geld tydens die Ndebele-moorde deur Mugabe se Shona’s in die 80’s. Daar is talle sulke voorbeelde in Afrika alleen.

    Eintlik het ek dit net teen ‘n populere dubbele standaard dat westerlinge (blankes) se rassistiese optrede teen anderskleuriges altyd aan die groot klok gehang word, terwyl rassisme onder mense van dieselfde velkleur gesien word as ‘n “sagter” vorm van rassisme en so half negeerbaar.

    Weer eens wil ek herhaal dat militante Moslems geweldige skade aan Islam aanrig. Ek kan nie dink dat Moslems of mens van Midde-oosterse afkoms voorheen met sulke agterdog te kampe gehad het nie. Dis baie tragies, maar ongelukkig ‘n uitvloeisel van ‘n groter konflik (vgl die houding via Duitsers in Engeland, die VSA en ook in SA ten tyde van die 2de Wereldoorlog).

  5. Opmerking oor Blink: Die boek was baie interessant, maar die tema was nie baie konsekwent nie. Dit het begin met die ‘blink’ idee, maar ek dink Gladwell het teen die einde van die boek moeg geraak vir die tema en wou eintlik oor stereotipering en outomatiese assosiasie skryf.

  6. En tog probeer vele in Europa om hulself blas te tan. Watter kleur is jou oë? Het jy al blou kontaklense oorweeg? Anyway, veels geluk met jou verjaars vandag.

  7. BiB, dankie vir jou deurdagte kommentaar. Ek het nog self nie klaarheid hieroor nie en wil graag nog bietjie daaroor dink. Ek dink wel steeds dat rassisme gelaat-vooroordeel is. Die pomme is bv baie gelukkig met al die damn Pole wat in Engeland instroom, omdat hulle soos hulle lyk (wit), maar baie ongelukkig oor die Paki’s. Dit is rassisme vir my. Ek dink bv die groot konflik in Beslan het niks uit te waai gehad met rassisme nie, maar met etnisisme. Maar weereens, dit is my smal interpretasie, nie noodwendig reg nie. Jou voorbeel van Hutu’s en Tsutsi’s val ook vir my in daardie kategorie. Wat jy sê is baie waar, ons gee baie minder om oor konflik waar gelaatskleur-vooroordeel nie ‘n rol speel nie. Eddie Izzard sê dit vir my beste:”If you kill your own people we don’t care, we almost want to say, ‘Well done, we’ve been trying to get rid of you for years.'”

    idi, Blink het my moerse gefrustreer vir presies hierdie rede. Die skrywer het nie een idee nie en dwaal heeltemal van die punt af om ‘n punt te maak wat hy nie heeltemal het nie. Ek het die boek op vakansie in Santorini by ‘n vriend geleen en ek dink ek het bietjie te ver gegaan om die boek as stoetbulkak uit te maak, soveel so dat ek die vriend heel moontlik affronteer het. Maar dit gesê, het die boek interessante idees.

    Janneman, dankie met die wense!

  8. Weet nie wanneer jy verjaar het nie, maar geluk ook van hierdie kant af!

    “Stoetbulkak” – oulike neologisme. 🙂

  9. Dankie Boer. Ek het na die tyd gedink “bolle stoetbulstront” sou miskien beter gewerk het, maar my ma het geleer dat mens nie “stront” mag sê nie.

Leave a comment